<< Terug na Ons Geskiedenis

Hoofstuk Een


Saam met die ontdekking van Diamante, het ook gekom die soektog na die Pêrel van groot waarde.

‘n Terugblik op die wording en ontstaan van die gemeente van Kimberley, en ‘n herinnering aan die honderd jaar van genade waarin die Here God hierdie gemeente gelei en gebou het, sterk by ons die oortuiging dat die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika nog altyd ‘n troue bergvesting was vir die sieleheil van sy lidmate, en vervul ons met ‘n diepgewortelde trots en dankbaarheid.

Nadat die kinders van burger Van Wyk in 1870 blink klippies, wat later geblyk het diamante te wees, uit die kleipleistering van sy huis te Dutoitspan gehaal het, het dit nie lank geduur voordat delwers van heinde en ver gekom bet om daar ‘n fortuin te soek nie. Pas nege maande na hierdie toestroming by Dutoitspan het die opspraakwekkende ontdekking by Colesbergkoppie, die huidige Kimberley-myn, plaasgevind. Ook hier was heelgou duisende mense wat na ‘n tydelike heenkome kom soek het.

Die diamante het aan baie mense fortuine besorg, aan ander rykdom of ‘n gerieflike inkomste, maar in die sielebehoefte kon hierdie skatte van die aarde nie voorsien nie. Dit het die N.G. Kerke van die Kaapprovinsie en die Vrystaat heel gou besef. Vandaar dat die noodsaaklikheid van die geestelike bearbeiding van die delwers reeds by die sinodesitting van die Kaapse Kerk in 1870 onder bespreking gekom het. Op Maandag 14 November 1870 is beskrywnigspunt nommer 18 behandel:

“De Synode zorge voor eene geregelde openbare Godsdienstoefening by de Diamantvelden.”

Hierdie beskrywingspunt is ingedien en toegelig deur die predikant van Colesberg ds. A. D. Luckhoff (grootvader van ds. J. R. Luckhoff, vroeëre leraar van Kimberley). Na bespreking en een of meer amendemente is die volgende besluit deur die Sinode geneem:

“De zaak word in handen gesteld van eene speciale commissie om, staande de vergadering, aan te bevelen hoe op de best mogelyke wyze te voorzien in de geestelyke behoeften van de leden onzer Kerk aan de Diamantvelden.”

Hierdie kommissie is benoem en het bestaan uit di. A. D. Lückhoff van Colesberg, C. Murray van Graaff-Reinet, Y. M. Gray van Aberdeen, en J. H. Hofmeyer van Somerset-Oos. Op 24 November 1870 het hulle die volgende verslag aan die Sinode voorgele:

“Uwe Commissie heeft de eer te rapporteren dat het haar voorgekomen is dringend noodzaaklyk te zyn, dat de Hoog Eerwaarde Synode spoedig voorziening make in de geestelyke behoeften der Leden onzer Kerk, thans aan de Diamantvelden. En aangezien het wenschelyk is, dat een man van rype ervaring derwaarts worde afgevaardigd, neemt ze de vryheid om aantebevelen dat óf de Leeraar van Swellendam óf de Leeraar van Glen Lynden daartoe worde benoemd.

Uwe Commissie meent, dat de Afgevaardigde niet minder dan drie maanden aldaar zal moeten arbeiden en dat wel zonder ondersteuning van de Diamantgravers te verwachten. Aan hem worde het overgelaten om te vernemen of men aldaar gewillig is, voor de toekomst eenen Leeraar te bezoldigen.”

Die kommissie het verder aanbeveel dat die onvermydelike reiskoste verbonde aan so ‘n afvaardiging gedek kan word indien elke lid van die Sinode 10/- daartoe bydra. Die Sinode bet egter besluit, saam met die aanvaarding van hierdie rapport, om £30 uit die Sinodale kas vir hierdie doel aan te wend met die verstandhouding dat elke gemeente van die Kerk in die Kaaprovinsie onderneem om voor Februarie 1871 ‘n spesiale kollekte vir die doel te hou. Ds. J.F. Burgers van Hanover, die latere President van die Zuid Afrikaanse Republiek, en ds. S. P. Naude van Queenstown het egter protes laat aanteken teen die besluit insake die £30 uit die Sinodale kas.

Die keuse van ‘n afgevaardigde bet geval op die predikant van Glen Lynden, ds. G. W. Stegmann snr. en op 16 Februarie 1871 het hy vertrek na Dutoitspan alwaar hy ‘n tydlank werksaam was.

Kragtens Sinodale besluit sou die werk op die Diamantvelde vanaf 1871 deur die Ring van Graaff-Reinet behartig word, maar benewens die vermelding van die aanstelling van ‘n kommissie om te sorg vir die belange van die lede van ons Kerk op die Diamantvelde, word daar by die vergadering van die Ring van Graaff-Reinet in Oktober 1871 niks gerep oor hierdie saak nie. Die rede is waarskynlik dat ds. Stegmann nie onder hierdie Ring ressorteer het nie, en dat die verslag van sy besoek aan die Diamantvelde eers by die Sinode van 1873 ingelewer is. By genoemde vergadering van die Ring van Graaff-Reinet is besluit om die volgende kommissie te benoem wat moes sorgdra vir die geestelike behoeftes van ons mense op die Diamantvelde: Ds. J.H. du Plessis van Cradock, ds. C. Murray van Graaff-Reinet, en ds. A.D. Lückhoff van Colesberg.


UIT DIE VRYSTAAT

Nie alleen het die Kaapse Kerk onder die delwers gewerk nie, maar ook uit die Vrystaat het verskeie predikante van tyd tot tyd gekom om op Dutoitspan en Vooruitzicht of New Rush, soos Kimberley destyds bekend was, geestelike werk te kom doen. Op die Sinode van die N.G. Kerk van die O.V.S. wat in April 1871 gehou is word daar gevra onder watter gemeente van die Kerk Dutoitspan moet ressorteer. Beskrywingspunt nommer twaalf wat by hierdie sitting behandel is, lui ook dat die Sinode sy leedwese notuleer oor die verbysage van die Vrystaatse Kerk deur die Hoogeerwaarde Sinode van die Kaapse Kerk insake die sending van die Kaapse Kerk na die Diamantvelde wat op Vrystaatse grondgebied is. Hierdie beskrywingspunt is natuurlik behandel ses maande voordat die betrokke grondgebied van die Vrystaat vervreem is, en het betrekking op die sending van ds. Stegmann na Dutoitspan in Februarie 1871.

Die besoek van ds. Stegmann, sowel as die bydraes wat deur besoekende predikante van die Vrystaat gelewer is, het ongetwyfeld daartoe bygedra om ‘n georganiseerde kerklike gemeenskap op die Delwerye daar te stel. Reeds in Julie 1871 bestaan daar in Dutoitspan ‘n Kerktent-Comitee wat hom die behartiging van die belange van die Kerk ten doel stel. In hierdie verband is daar op 8 Julie 1873 ‘n vergadering van genoemde “Comitee” gehou, en ‘n reglement uitgevaardig wat uit 17 artikels bestaan en wat “Huishoudelyke Bepalinge” genoem is. Die strekking van enkele van die bepalings is die volgende:

“1. Die Kerktent bestaan ten dienste van die N.G. Kerk, O.V.S., en ander susterkerke, uit vrywillige bydraes.

2. Die Komitee bestaan uit sewe lede, gekies deur die gemeente uit lede van die N.G. Kerk.

3. Die Komitee het onbetwisbare reg van opsig sowel as toesig oor preekbeurte.

7. Nog die Komitee nog afsonderlike lede sal die reg hê om oor die kerktent te disponeer byv. deur die tent te verkoop of deur dit te verplaas na ‘n ander delwery, sonder die verlof van die Moderatuur van die N.G. Kerk van die Vrystaat.

13. Die Komitee het die reg om die tent ten diens te stel van Sondag- of Dagskool.

17. Hierdie wette en bepalinge ,vasgesteld zynde zullen dan en daar worde onderteekend door de Commissie tot het opstellen derzelve benoemd en aangesteld op die algemeene vergadering van de ledematen der N.G. Kerk gehouden te Dutoitspan, distrikt Oranje Vrystaat, op den 8 sten July 1871.”

Hieruit blyk dit duidelik dat die lede van ons Kerk op die Diamantvelde hulle as vanself onder die vleuels van die N.G. Kerk van die Oranje Vrystaat geskaar het.


WERK OP VOORUITZICHT

In hierdie tyd is die ontdekking van Diamante by Colesbergkoppie op die plaas Vooruitzicht gedoen. Hierdie delwery, die huidige Kimberley, het as New Rush bekend gestaan, en het, soos die naam aandui, ‘n geweldige toestroming meegebring. Ons mense het nie op hulle laat wag nie en spoedig was hier ook ‘n georganiseerde kerklike gemeenskap. ‘n Kerktent is opgerig en ‘n “Comité” in die lewe geroep, wat ook die bogenoemde huishoudelike bepalings in gebruik geneem het.

Volgens De Zuid Afrikcan van 17 Febr. 1872 was die eerste lede van die New Rush Komitee die volgende: Jan Els – Adelaide; R. Ortlepp – Colesberg; Jan Cilliers – Fraserburg; Jan Sloane – Hope Town; Gideon Hefers – Ladybrand ; Johs Lombart – Cradock; H. H. Meintjies – Graaff-Reinet.

Insover, volgens latere notule van die Kerkraad, dit blyk dat die lede van die Kerktent Komitee as rustende kerkraadslede, met sittingsreg op die gekombineerde kerkraadsvergaderings beskou is, moet hierdie Komitee bekou word as die voorloper van ‘n wettige saamgestelde Kerkraad. Die vermelding van die plekke waar hulle vandaan kom is baie interessant, en lei tot verskillende gevolgtrekkings: In die eerste plek dui dit ‘n weldeeglike poging om hul wettige kerkverband te bewys (sien bepaling nommer 2 hieronder); verder is die Komitee, saamgestel uit lidmate van wydverspreide plekke, ‘n aanduiding van hoedat die hele gemeenskap, met wyd uiteenlopende belange en herkoms, saamgestel moes gewees bet; nogeens, kan dit ook aangeneem word as ‘n bewys dat hierdie persone hulleself bloat as tydelik op die Delwerye beskou (vgl. bepaling nommer 4 hieronder). Hierdie laaste twee afleidings, n.l. die wyd uiteenlopende belange en die tydelike verblyf, is die grondoorsaak van die grootste probleem wat die gemeente van Kimberley deur al die jare van sy bestaan tot vandag toe gehad het, n.l. die taak om by sy lidmate ‘n hegte samehorigheidsgevoel en bestendige gemeentebewussyn op te bou. Dit egter terloops. Opvallend ook is die feit dat op een na, al die lede van die Komitee uit Kaapland afkomstig is.

Die Kerktent Komitee te New Rush moes om en by September 1871 gekies gewees het.


VOORUITGANG

Middelerwyl het die Kommissie wat deur die Ring van Graaff-Reinet benoem is nie stilgesit nie. Ter bevordering van orde en geregtigheid het die Kommissie sekere bepalings opgestel wat volgens die Gereformeerde Kerkbode van 13 Jan. 1871 die volgende bevat:

Ds A.D. Lückhoff
  1. “Alle Lidmaten onzer Kerk aan de Diamantvelden willende kerkelyke voorregten, als Doop en A vondmaal, genieten, vervoegen zich daartoe by den tydelyk aldaar dienstdoenden leeraar onzer Kerk.
  2. Zy brengen met zich een bewys van lidmaatschap, onderteekend door den leeraar der gemeente, waaronder zy sorteren.
  3. De leeraren der respective gemeenten gelieven, sooveel mogelyk, den volgenden vorm van certifikaat in acht te nemen: Dan word bier ‘n sertifikaat van lidmaatskap vir die Diamantvelde gegee).
  4. By de bediening van den doop zal de dienstdoenden leeraar daarvan behoorlyk aanteekening maken in bet doopboek, dat hem Ds. A. D. Lückhoff door daartoe aangestelde personen zal worden overhandigd. Ook zal hy aan ouders of andere belanghebbenden een naauwkeurig afschrift er van geven, om den leraar der gemeente, waaronder zy sorteren te worden toegezonden, ter registratie in het doopboek dier gemeente.”

Die Kommissie het ook baie moeilikheid ondervind om leraars te kry wat in staat was om vir ‘n tydlank op die delwerye te gaan werk. Ds. G. W. Stegmann het in Febr. 1871 daarheen gegaan en dit was eers ‘n jaar later dat die jeugdige ds. A. D. Lückhoff, na baie vrugtelose pogings om ,een man van rype ervaring” te vind, besluit het om self te gaan. Op 7 Maart 1872 het hy van Colesberg vertrek vergesel (vir ons van groot belang) van eerw. prop. J. W. Louw6•

Alhoewel hulle nie amptelik gestigte gemeentes aangetref het nie was daar tog twee behoorlik georganiseerde Kerklike gemeenskappe soos die volgende sal getuig:

In De Gereformeerde Kerbode van Saterdag 10 Februarie 1872 verskyn ‘n interessante stukkie nuus oor die Diamantvelde:

“De Kerktent op Dutoitspan werd op den 20sten January 1.1. ingewyd. Dezelwe ziet er tamelyk net uit en is zoo ruim dat zy 500 zitplaatsen bevat. Velen der belanghebbenden van de New Rush gingen over om de feestelykheden by te wonen. Di. du Toit (Jacobsdal) en Fraser (Philippolis) waren tegenwoordig en noodigden de gemeente uit om voor een oogenblik zich te begeven naar de oude kerkplaats, waar zy kortelyks toegesproken werd door ds. du Toit. Van daar gingen zy op naar de Kerktent, die op de gewone wyse door ds. Fraser geopend werd. Ds. du Toit beklom toen den kansel en las het gebed van Salomo. Daarna beklom ds. Fraser den kansel en sprak eene toepasselyke leerrede uit naar aanleiding van Ex. 20:24b.

Het gebou was proppend vol, hoewel het weder zeer ongunstig was en het stortregende toen de deuren geopend werden. Zelfs onder het lezen regende het zoo geweldig dat men byna niets kon hooren van wat er voorgelesen werd. Ook Zondag was de kerk beide malen even vol als op den vorigen dag. Op de Beers’s New Rush vind men ook een zeer nette Kerktent, die echter geheel van zeil vervaardigd is, terwyl die van Dutoitspan een yzeren dak en houten geveels heeft.”

Nouliks twee maande later verskyn daar weer ‘n berig waarin vermeld word dat die ruime Kektent op Dutoitspan nou heeltemaal te klein geword het vir die lede. Verder vermeld dieselfde berig dat die begeerte sterk posgevat het om ‘n eie leraar te beroep. Daar word nou hard gewerk vir die stigting van ‘n dagskool want daar bestaan toe alreeds ‘n Sondagskool met 160 kinders. Ook is daar ‘n groat behoefte aan sendingwerk onder die byna 20 000 kleurlinge wat daar werksaam is.

By die sitting van die Ring van Fauresmith, 10 April 18728, dien ‘n gelykluidende dubbele versoek van beide die Kerktent-Komitee van Dutoitspan en New Rush n.l. dat die Ring die betrokke kerkgeboue op die delwerye sal oorneem; en dat die Ring ten spoedigste daartoe sal oorgaan om selfstandige gemeentes op die delwerye te stig. Aan hierdie versoeke kon die Ring egter nie voldoen nie.

In De Gereformeerde Kerkbode van 27 Julie 1872 verskyn ‘n berig waarin vermeld word dat 13 lidmate op 7 Julie te New Rush voorgestel sou word (die berig is voor daardie datum weggestuur), en dat New Rush vir eerw. prop. Louw gevra het om vir nog ses maande Ianger aan te bly wanneer sy tyd om is. Volgens ons lidmaatregister is hierdie eerste 13 lidmate, wat op 18 Junie aangeneem is deur ds. Lückhoff, dan ook op 7 Julie deur hom voorgestel en hier volg die name:

  • Christiaan Daniel Myburgh
  • Daniel Francois Roux
  • Daniel Gerhardus Raath
  • Margaretha Johanna Botha
  • Anna Cecilia Conradie
  • Catharina Johanna Els
  • Gertruida Christina Meintjes
  • Johanna Francina Meintjes
  • Anna Susanna Louw
  • Helena Catharina Paulse
  • Carolina Emelia Pohl
  • Petronella Willemina Potgieter
  • Maria Barendina van der Spuy
  • Maria Adriana Naude
  • aangeneem 4 Mei 1872 voorgestel 7 Julie 1872.

In die Kerkbode van 10 Aug. 1872 verskyn ‘n baie interessante berig:

De Diamantvelden: Dutoitspan. Op Zondag namiddag den 14den July j.l. is hier eene ledematen-vergadering gehouden, onder voorzitterschap van ds. van Wyk van Boshof, om een besluit van het Comité te bespreken, namelyk, dat een predikant voor den tyd van zes maanden beroepen worde, en dat hy een salaris van £150 voor dien tyd zal krygen. Dit met algemene stemmen aangenomen zynde, werd de eerw. proponent Louw gekozen. Zyn eerw. had bedankt voor het beroep als hulpprediker aan de Paarl.

Op de New Rush wordt eene nieuwe Ned. Ger. Kerk gebouwd, alwaar zyn eerw. ook beroepen is. Dit laatste beroep heeft hy aangenomen, voor dat van Dutoitspan bedankt hebbende. Zyn eerw. zal waarschynlyk (D.V.) in den loop dezer maand bevestigd worden, by gelegenheid van die inwyding der nieuwe Kerk.”


STIGTINGSGESKIEDENIS

Die bepaling van die datum waarop die gemeente van Kimberley werklik gestig is, is ‘n ingewikkelde maar hoogs-interessante taak. Wanneer ‘n gemeente vandag “afgestig” word van een of meer moedergemeentes dan geskied die bepaling van al die bestanddele wat nodig is om ‘n gemeente wettig te konstitueer gelyktydig op die stigtingsdag. Op die dag word die eerste kerkraad gekies, die grenslyne van die gemeente vasgestel, die registers en notuleboek aangelê, ‘n konsulent benoem, en die rings- en sinodale verband vasgelê. In die geval van die gemeente van Kimberley (en ook Dutoitspan) is die gemeente egter nooit op ‘n bepaalde dag gestig nie, maar het dit in die loop van tyd ontstaan. Die volgende datums is van belang:

  • 16 Febr. 1871: Ds. G. W. Stegmann vertrek na Dutoitspan.
  • 8 Julie 1871: ‘n Vergadering van lidmate van die N.G. Kerk te Dutoitspan bekragtig die 17 artikels van die “Huishodelyke Bepalingen” vir ‘n “Kerktent-Comité,” soos vroeër deur ‘n spesiale kommissie opgestel, en kies die eerste Kerktent-Komitee.
  • September 1871 (ongeveer): Kiesing van Kerktent-Komitee te New Rush, en aanvaarding van dieselfde huishoudelike bepalinge as die vir Dutoitspan.
  • 7 Maart 1872: Ds. A. D. Lückhoff en prop. J. W. Louw vertrek na die Diamantvelde.
  • 10 April 1872: ‘n Versoek word voor die Ring van Fauresmith gelê vragende spoedige stigting van gemeentes te Dutoitspan en New Rush.
  • 1 Mei 1872: Lidmaat- en Doopregisters word vir Vooruitzicht (New Rush) aangelê.
  • 7 Julie 1872: Voorstelling van dertien lidmate deur ds. Lückhoff.
  • 17 Augustus 1872: Plegtige ordening en bevestiging van eerw. prop. J. W. Louw en inwyding van die eerste Kerkgebou.
  • 8 September 1872: Kiesing van eerste Kerkraad deur ‘n gemeentevergadering.
  • 15 September 1872: Voorstelling van eerste Kerkraad.
  • 7 Julie 1873: Vasstelling van grenslyn tussen New Rush en Dutoitspan deur betrokke Kerkrade (“Het Hospitaal wordt genoemd als de grensscheiding.”).
  • 28 Oktober 1880: Kimberley en Dutoitspan word ingelyf in die Kaapse Kerk deur die Sinode, en geplaas onder die ressort van die nuutgestigte Ring van Colesberg.

Met bowe datums voor oë is dit nou moontlik om tot ‘n oplossing te kom. Dit is duidelik dat daar in die gewone sin van die woord geen bepaalde stigtingsdag van die gemeente was nie. Nogtans kan ons tog ‘n datum bepaal waarop tereg kan gespreek word van ‘n gevestigde gemeente. Om die datum van inlywing deur die Sinode in die Kaapse Kerk (28 Okt. 1880) te neem sal nie reg wees nie. Kragtens ‘n Hooggeregshofuitspraak wat gelewer is ná die Sinodesitting van 1862 kon alleen gemeentes binne die Kaap-Kolonie in die Kaapse Kerk ingelyf wees. Sedert die proklamasie van Henry Barkly op 27 Oktober 1871 waarvolgens die Diamantevelde aan Grikwaland-Wes geannekseer is kon nog die Kaapse nog die Vrystaatse Kerk sinodale verband aan die betrokke gemeentes gee. Eers na die anneksasie van Griekwaland Wes aan die Kaap Kolonie het dit geskied. Dit is verder duidelik dat die gemeente reeds lank voor 1880 as ‘n independente gemeente bestaan het. Aan die ander kant sou dit ook nie reg wees om die tydstip waarop die Kerktent-Komitee gekies is as die stigtingsdag van die gemeente te beskou nie, aangesien hierdie Komitee kragtens sy reglemente slegs ten doel gehad het die onmiddellike versorging van die geestelike behoeftes. Ook dien die versoek wat voor die Ring van Fauresmith gelê is op 10 Maart 1872 as ‘n duidelike bewys dat die gemeenskap, hoewel ten dele georganiseer, homself nog nie as ‘n gemeente beskou het nie, en ook nog nie die regspersoonlikheid besit het om eiendomme (die Kerktent) op sy naam te transporteer nie.

Die dae waarop die registers aangele is, en waarop die eerste lidmate voorgestel is, is baie belangrike datums, maar kan nie aanspraak daarop maak dat dit ‘n stigtingsdag kan wees nie. Dit word ook bevestig in die feit dat afskrifte van die lidmaatregister in die begin vir registrasie gestuur is na die gemeente vanwaar die betrokke lidmate afkomstig is. Veel kan gesê word ten gunste van die datum waarop die eerste Kerkraad wettig gekies, of beter nog, voorgestel is. Kragtens die Gereformeerde Kerkreg is ‘n gemeente van ons Kerk dan eers outonoom, d.w.s. dit het selfbeskikking met ‘n eie regering. Onder gewone omstandighede sal ‘n gemeente sy outonomie ontvang, en ook dan eers gestig wees, wanneer ‘n kerkraad, as beliggaamde instrument van hierdie selfbeskkikingsreg, wettig gekies of voorgestel is. In die geval van die twee vrye N.G. Gemeentes van die Diamantvelde is dit egter uit vele bronne baie duidelik dat die gemeentes hulle outonomie gedemonstreer het deur gemeentevergaderings wat gehou is nog voor daar kerkrade was byv. by die beroeping van ‘n leraar of kiesing van die eerste kerkraad. Die blote demonstrasie van outonome seggenskap deur ‘n liggaam is egter nog nie bewys dat daardie liggaam op ‘n permanente grondslag ten volle gekonstitueer is nie. So is ook die eerste gemeentevergaderings juis daarop gemik om selfstandige stigting te bespoedig.

Nadat nou, al die datums wat hierbo behandel is, geweeg en te lig bevind is, bly daar vir ons oor die dag waarop die eerste leraar bevestig is en die eerste kerkgebou ingewy is. Onteenseglik moet ons in die lig van bowe redenerings hierdie dag beskou as die geboortedag van die Gemeente van Vooruitzicht (Kimberley). Die vernaamste argument tot ondersteuning hiervan is die feit dat op die dag die eerste kerklike Amp in die persoon van ‘n bevestigde leraar ingestel is. Die bevestiging van ‘n Herder en Leraar as Bedienaar van die Goddelike Woord, wie ook ‘n maand later kerkregtelik ipso facto lid van die eerste Kerkraad was, het ongetwyfeld hierdie georganiseerde gemeenskap, met ‘n hoë mate van selfbeskikkingsreg, verander in ‘n gevestigde en permanente gemeente. Dit word verder: bevestig deur die feit dat op dieselfde dag ‘n stewige kerkgebou ingewy is in die plek van die tydelike Kerktent. Dit word ook versterk deur bykomstige sake soos die feit dat op dié dag die naam van die gemeente, sy geografiese identiteit, sy registers, ensomeer, reeds vasgestel was, en ook dat ds. Lückhoff wat amptelik namens die Kaapse Kerk hier gewerk het, onmiddellik hierna kon vertrek en die gemeente met vrymoedigheid aan homself kon oorlaat. Ook is dit opvallend dat, alhoewel dit vroeer nie die geval was nie, dit nêrens na hierdie bepaalde dag in notules of geskrifte blyk dat daar enige twyfel aangaande die wettige bestendigheid van die gemeente bestaan nie.

Met ‘n opregte dankgebed teenoor die Opperherder van die kudde, moet ons dan besluit dat die geboortedag van hierdie gemeente is, Saterdag die Sewentiende Augustus 1872.


EERSTE KERKRAADSLEDE WORD GEKIES

Op Sondag 8 September van daardie jaar, 1872, is weereens kerklike geskiedenis gemaak op die diamantvelde. Op ‘n “gemeentevergadering,” net na afloop van die oggenddiens is oorgegaan tot die kiesing van kerkraadslede vir “De Beers New Rush,” d.w.s. die gemeente wat later as Kimberley bekend sou staan. Onder dieselfde datum meld dieselfde beriggewer (De Kerkbode 5/10/1872): “Op Dutoitspan zouden heden op dezelfde wyse kerkraadleden door de gemeente gekozen worden.”

Hieruit moet ons aflei dat Kimberley en Dutoitspan op dieselfde dag hul eerste kerkraadslede gekies het. Die onderskeie datums van bevestiging van die eerste kerkraadslede van hierdie twee gemeentes kon ons ongelukkig nie vasstel nie. As aangeneem word dat ‘n gemeente in kerkregtelike sin eers dan bestaan wanneer sy eerste kerkraadslede verkies en bevestig is, dan wil dit voorkom of hierdie twee gemeentes in die Diamantstad ewe oud is. Maar as die bevestiging van sy eerste diensdoende predikant die bepalende faktor moet wees, dan moet aan Kimberley (“De Beers New Rush”) die eer van “senior” toegeken word. Immers sy eerste predikant prop. J. W. Louw is reeds op 17 Augustus 1872 bevestig, terwyl nog meer as ses maande sou verloop voordat
Dutoitspan sy eerste leraar in diens sou stel. Feit is egter dat beide gemeentes hul eerste kerkraadslede in 1872 gekry het, heel waarskynlik op dieselfde dag nl. 8 September, 1872, en daarom is ons van mening dat hul min of meer ewe oud is, en dat vir altwee 1872 as stigtingsjaar geld. Natuurlik het ons Kerk op die diamantvelde die eerste op Dutoitspan begin werk. In nie-amptelike sin is dit dan ook die oudste gemeente hier, vandaar ook dat die Ring die Ring van Dutoitspan heet. Om op te som: Op Sondag 8 September 1872 is die N.G. Kerk in die opkomende Diamantstad Amptelik in funksie gestel.