Hoofstuk Drie

<< Terug na Ons Geskiedenis

Hoofstuk drie


Ds. J.R. Albertyn Sept. 1926 – Des. 1935

Ds. J.R. Albertyn 1926-1935

Op 18 September 1926 word die weleerw. ds. J. R. Albertyn, B.A., B.D., hier bevestig. Ds. Albertyn, wat van Willowmore oorgekom het, is die eerste leraar wat nie as proponent hier begin het nie.

As seun en kleinseun van gevierde predikante van ons Kerk, het ds. Albertyn dadelik daartoe oorgegaan om die gemeente te organiseer volgens die beste tradisies. Gelyktydig het hy ook groot bydraes gelewer wat van breer kerklike- en volksbelang is. Vanwee sy gesaghebbende kennis oor die armeblankevraagstuk het die onderskeiding hom tebeurt geval om lid te word van die Carnegie Kommissie. In hierdie hoedanigheid was hy dan ook verantwoordelik vir die grootste gedeelte van Deel V van die klassieke rapport van die Kommissie wat in 1932 gepubliseer is. Verskeie ander publikasies het uit sy vrugbare pen gevloei.

Hierna was hy die organiseerder, en die hart en siel van die geskiedkundige Volkskongres oor die Armeblankevraagstuk, wat in 1934 in Kimberley gehou is. Sy besondere bekwaamheid en aanleg vir maatskaplike werk het dan ook daartoe gelei dat hy as Algemene Armesorgsekretaris van die Transvaalse Kerk aangestel is in 1935, en het hy in hierdie hoedanigheid sy Kerk en Volk met besondere onderskeiding gedien

Nie alleen was ds. Albertyn ‘n vader vir die armes nie, maar hy was ook ‘n vriend van die Sending. Behalwe vir sy ywer vir plaaslike sending, was dit onder sy aanvoering dat die gemeente in 1928 goedgestaan het vir die salaris van ‘n sendeling in Nyasaland, tewete vir die van ds. A. C. van Wyk, later professor aan die Sendinginstituut te Wellington.

Ds. Albertyn het ook die aanvoorwerk gedoen vir die belangrike en geseënde werk in verband met Hospitaal-bearbeiding. Dit was hy wat die Ring opgewek het tot gesamentlike optrede in hierdie saak.

Dit is gedurende die bediening van ds. Albertyn dat die galery in die Kerk aangebring is, die sydeure ingebou is, en dat die horlosie en klokke vir die toring (‘n geskenk van die wed. D. Humphreys) aangebring is. Ook is die Pastorie en die Weeshuis in sy tyd vergroot.

KERKRAAD-1935.
Voor van links na regs: J. J. Smith; W. S. P. Lubbe; ds. J. R. Albertyn;
P. J. Bruwer; F. W. C. van Niekerk.
Middel: J. L. Pretorius; A. J. J. Boles; G. J. Grobbelaar;
M. J. Jacobs; P. J. Naude; J. B. Brink.
Agter: A. P. Bothma; I. C. Verster; C. J. S. Moller;
J. H. P. Kotze; G. J. Wolfaardt.

Geen melding van die bediening van ds. Albertyn sal volledig wees indien daar nie ook gewag gemaak word van sy buitegewone ywer en belangstelling insake die jeug van die gemeente nie. Met sy belangstellende natuur, sy opgewekte prediking, en sy vaardigheid as tennisspeler, skaakspeler en pianis, was ds. Albertyn die regte man vir die jeug. In hlerdie werk is hy bygestaan deur die blymoedige mev. Albertyn, wie se mensekennis en sin vir humor allesoortreffend was. In sy tyd het die Jongeliedevereniging ‘n bloeitydperk geken, en was die Strewersvereniging ‘n blywende suurdeeg ten goede.

Van die vernaamste monumente wat deur ds. J. R. Albertyn in hierdie gemeente agterlaat het, is te vind in die resultate van sy ondernemings ten behoewe van die kultuurstryd van die Arfikaner, en by name vir die Moedertaalonderwys. Aanvanklik het hy hom beywer om vir Afrikaans ‘n regmatige plek in bestaande skole te verower. Hy ontmoet baie teenstand, en slegs gedeeltelike sukses. Daarna het hy herhaalde pogings aangewend om parallel-mediumklasse in die hoërskole te verkry, maar sonder sukses. As enigste (en beste!) uitweg word nou onder sy leiding volhardend gewerk vir die stigting van ‘n afsonderlike Afrikaansmediumskool, en na ‘n lang en harde stryd word die Diamantveld-Hoerskool op 28 Jan. 1935 geopen met 76 leerlinge. Die Diamantveld-Laerskool volg presies drie jaar later (na ds. Albertyn se vertrek) met 289 leerlinge.

Op 14 Desember 1935 ontvang ds. Albertyn sy demissie, en het die gemeente met innige dank en waardering vir sy werk, hom met trots afgestaan vir die groter en breer werk wat hy vir sy Kerk en Volk moes verrig.


Ds. C. P. v.d. Merwe, B.A.

Gedurende die tyd wat ds. Albertyn besig was met die werk aan die Carnegie-Verslag was hy vir twee jaar merendeels afwesig uit die gemeente. Om te voorsien in die behoeftes van die gemeente is, op rekening van die Sinode, ‘n hulpprediker aangestel. In Jan. 1929 word prop. C. P. v.d. Merwe in die hoedanigheid georden. Trou en toegewyd het hy die gemeente versorg, en so onmisbaar het sy dienste geword dat die Kerkraad op 24 Augustus van dieselfde jaar vir hom eenparig tot Tweede Leraar beroep het. Nadat by bevestig is het hy die gemeente op loflike wyse gedien totdat by op 11 Oktober 1930 demissie ontvang, nadat hy ‘n beroep na Belfast aangeneem bet.


Prop. H. L. Pepler, B.A.

Na die vertrek van ds. v.d. Merwe het die gemeente verskillende vertoë tot die Kerkraad gerig om ‘n tweede werkkrag by te kry. Die depressie het egter dubbeld swaar op Kimberley gedruk, en die fondse was min. Op 26 Junie 1932 word prop. Pepler hier as hulpprediker verwelkom. Hy het egter spoedig ‘n vaste werkkring elders aanvaar.


Ds. M. L. van Rensburg, B.A.

Op 15 Oktober 1932 word prop. M. L. van Rensburg hier verwelkom as hulpleraar, en op 4 Febr. 1933 word hy georden. Aanvanklik was sy aanstelling op ‘n tydelike basis, maar op 9 Sept. 1933 word hy as permanente hulpprediker aangestel. In hierdie hoedanigheid werk hy tot 18 Okt. 1934, en vertrek hy na Hertzogville waarheen hy ‘n beroep aangeneem het. Ds. van Rensburg was ‘n knap prediker, minsaam in die omgang en toegewyd in sy werk. Die gemeente het veel seën uit sy dienste ontvang.


Ds. P. F. T. Burger

KERKRAAD- 1938.
Voor van links na regs: P. Joubert; P. van Jaarsveld; J. Combrink;
ds. P. F. T. Burger; ds. P. H. Jordaan; P. J. Brmver; J. Odendaal.
2de ry: H. D. Raux; J. Hattingh; A. Badenhorst; J. van den Berg;
F. van Rensburg; J. Jacobs; F. Posthumus; A. van den Berg.
3de ry : S . Muller; W. van der Westlwyzen; Zas. de Beer; W. Engelbrecht;
M. Combrink; P. de Preez; G. Steyn. Agler: N. Smit; J. Deyzel; J. Smit;
J. Kotze; B. Oils; C. Bronner; J. Marais; J. Albertyn.

In Januarie 1935 word ds. Burger, vroeër leraar van Willowmore, wat weens swak gesondheid moes aftree, hier as hulpleraar verwelkom. Sy kragte het sodanig herstel dat hy sy volle aandag aan die werk kon wy. Vir ag jaar het hierdie minsame en toegewyde dienskneg van die Here in die gemeente van Kimberley onskatbare dienste gelewer in die geestelike versorging van lidmate en kinders. Nadat by en ds. Albertyn vir ‘n jaar hartlik saamgewerk het, het hy die volle verantwoordelikheid op homself geneem totdat die vakature weer gevul is. Altyd was dit ds. Burger wat by enige verleëntheid in die bresse getree het, en altyd was dit sy rype ervaring en kalme natuur wat vertroue ingeboesem het temidde van die woelinge gedurende sy dienstyd. Hoewel hy in die status as hulpprediker gewerk het, het die gemeente hom ten volle as hul herder en leraar ontvang. Met opregte waardering jeens hom en sy huis word op 15 Desember 1942 afskeid van ds. Burger geneem, toe hy permanent op pensioen afgetree het.


Ds. P. H. G. Jordaan, B.A.

Op 13 Junie 1936 word prop. Jordaan hierheen beroep om die vakature wat vanwee die vertrek van ds. Albertyn ontstaan het te vul. Op 20 Augustus van dieselfde jaar word hy hier georden en bevestig. Ds. Jordaan het beskik oor besondere talente en ‘n sterk persoonlikheid. Hy was ‘n harde kampvegter vir sy oortuigings, en hy het met welslae deurgedryf wat hy aangedurf het. Die geskiedenis van sy werk en ondernemings is aangeteken in die notuleboeke van die tyd waarin hy hier was. In Februarie 1942 verlaat ds. Jordaan die gemeente, en op 16 Julie 1942 word hy gedemitteer, en dit sal ons vergun word om oor die omstandighede wat hiertoe gelei het te swyg. In elk geval het dit vir die gemeente oneindig veel beteken dat die eer van God gehandhaaf is, en is gemeentelede gestem tot diep ernstige nadenke, sodat die woorde van Paulus hier toegepas kan word: “Dat dit wat ons wedervaar het, eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop het.”


Ds. J. R. Lückhoff, M.A.

Ds. J. R. Lückhoff
Jan. 1943 – 0kt. 1948

Op 23 Oktober 1942 word ds. J. R. Lückhoff van Griekwastad hierheen beroep. Hy word op 30 Januarie 1943 bevestig in ‘n gemeente wat vir etlike jare deur diep waters gegaan het; ‘n gees van moedeloosbeid, wantroue en verbrokkeling was onder die lidmate te bespeur. As teks vir sy intreepreek het by 1 Kor. 12:20 gekies: “Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam.” Met ‘n ernstige pleidooi het by gesoek om die gemeente weer saam te bind tot ‘n eenbeid in die versekering dat die Kerk die enigste plek is waar gelowiges ‘n tuiste vind; ‘n roeping vind; en van mekaar afhanklik is. Dit word slegs in Christus verwesenlik. Sy taak was voorwaar nie ‘n benydenswaardige nie maar in Christus het hy hom ten doel gestel om die verstrooides weer te versamel en deur die krag van die Allerhoogste het by wonderlik daarin geslaag om die gemeente weer tot ‘n eenheid saam te bind. Nie alleen in die gemeente nie, maar ook in ‘n
gemeenskap van vreemde volksgroepe moes hy hom uitermate beywer om die prestige van die N.G. Kerk op te bou en te handhaaf. Onder sy bekwame Ieiding en taktvolle optrede het die gemeente vinnig tot verhaal gekom en gegroei tot ver oor die 2 000 lidmate.

KIMBERLEY GEMEENTEBLAD

‘n Kragtige hulpmiddel in die hand van ds. Lückboff en die Kerkraad was die stigting van ‘n amptelike maandblad vir die Gemeente. Die eerste uitgawe van die Kimberley Gemeenteblad het op 1 Mei 1943 die lig gesien en in hierdie uitgawe het ds. Lückhoff die toekomsplanne vir die gemeente aan die lidmate geskets.
Omdat hierdie toekomsplanne so ingrypend was en die alternatiewe met die omstandighede wat dit beheers so duidelik gestel is, is dit noodsaaklik dat dit volledig in hierdie Eeufeesblad opgeneem word.


Ds. S. B. Buys, B.A.

Ds. S. B. Buys.
Sept. 1943-Febr. 1948

Op 5 September 1943 word ds. S. B. Buys as medeleraar na die gemeente van Kimberley beroep, en op 13 November word hy bevestig. By die Nagmaalsbediening op die volgende dag lewer hy sy intreeboodskap na aanleiding van Joh. 3:30: “Hy moet meer word, maar ek minder.” Hy hou hierdie hoogste lewensideaal van heiligmaking voor oë vir die lidmaat, die Nagmaalganger, en die bedienaar van die Woord.

Vir vier jaar het hierdie twee medeleraars innig en hartlik saamgewerk in die bediening van die gemeente van Kimberley. Die Kerkraad het by herhaalde geleenthede met waardering gewag gemaak van die hartlike samewerking wat daar bestaan het en ongetwyfeld is enige krag en invloed wat hulle mag besit het in ‘n hoë mate te danke aan die lojale eenheidsband tussen die twee leraars.


GEEN PASTORIE

Tydens die bediening van ds. Jordaan is die pastorie (waar ds. Fullard nou woon-1972) aan die Sendinggemeente verkoop omdat die omgewing hoofsaaklik al kleurlinggebied was en die pastorie reeds baie bouvallig.

Die Kerkraad het toe ‘n groot en gerieflike dubbelverdieping gebou in die middestad gekoop vir ‘n pastorie. Hierdie gebou was geleë op die hoek van Dutoitspanweg en Lennoxstraat, waar Eriksens Motors nou sy sakekompleks het (in 1972).

Na die vertrek van ds. Jordaan het die Kerkraad hierdie Pastorie en perseel wat vandag duisende rand werd is, verkoop vir £2 000.

Met die koms van ds. Lückhoff het die gemeente nie ‘n pastorie gehad nie en moes die leraarsgesin tydelik in ‘n huurhuis in Angelstraat
woon. Na etlike jare is ‘n mooi Pastorie in Parkweg 17 gekoop waar ds. Lückhoff en sy gesin toe gewoon het.

Ook ds. Buys en sy gesin het gedurende hulle hele bediening in ‘n huurhuis in Greenstraat gewoon, maar met die koms van ds. S. B. Meyer is ‘n permanente Pastorie in Greenstraat gekoop waar die leraarsgesin hulle gevestig het.


TOEKOMSPLANNE

In Mei 1943, in die heel eerste uitgawe van die Kimberley Gemeenteblad, lees ons die volgende: “Elke lidmaat het in die stilte van sy gemoed so ‘n voorgevoel van geweldige moontlikhede wat daar vir ons gemeente wag. Die Kerkraad is besig om grondig en omvattend in te gaan op al die aspekte van ons gemeentelike aangeleenthede. Daaruit kan later van tyd ‘n doelbewuste toekomsbeleid gebore word.” Kort hierna deel dieselfde blad mee: “Die taak is die vasstelling van die rigting waarin die gemeente in die volgende paar jaar moet ontwikkel. Dit is duidelik dat ons in die geskiedenis van ons gemeente gekom het tot aan die einde van die eerste groot periode. Soos sake nou staan, met een kerkgebou wat geleë is aan een kant van die gemeente, kan ons nie onbepaald voortgaan nie. Dit is ook duidelik dat die probleem homself nie vanself sal oplos nie. Daar moet doelbewus afgestuur word op ‘n vasgestelde beleid. Daar is geweldig baie faktore wat in aanmerking geneem moet word, en die Kerkraad sal eers na rype beraadslaging tot ‘n besluit kom.”

KERKRAAD-1947
Voor van links na regs: A. Botma; l. Steyn; P. van
Jaarsveld; P. Grobbelaar; ds. J. R. Liickhoff;
ds. J.P. Kriel; ds. S. B. Buys; C. M. Lombaard;
J. Jacobs; S. v. d. Merwe.
Middel: J. Naude; W. Engelbrecht; P. Roos; M. Jacobs;
J. Marais; P. Joubert; H. Stander; F. van Rensburg;
C. Kruger.
Agter: H. J. Smith; P. H . J. Nienaber;
J. G. v fd Berg; H. C. Eilers; S. J. Hartman;
A. J. H. Oosthuizen; C. S. J. Moller; D. J. Kritzinger;
C. J. C.Beukes; M. J. Combrink; B. F. P. Karstens;
P. F. Wepener.

Gedurende die daaropvolgende twaalf maande het die Kerkraad op ‘n reeks formele en informele vergaderings die saak uitgepluis. Die taak waarvoor die Kerkraad gestaan het was om te besluit op óf, desentralisasie, d.w.s. die afstigting van ‘n deel van die gemeente tot ‘n selfstandige gemeente óf, sentralisasie, deur ‘n nuwe Kerk vir die gemeente te bou in die middestad. Die raad het dit onomwonde onderskryf dat die eerste weg n.l. afstigting, as ‘n algemene beleid die
beste sou wees. Dit is die beproefde weg in al die stede van ons land om n.l. vinnig kleiner en selfstandige gemeentes te stig. In die geval van Kimberley sou so iets ook maklik wees insover die Transvaalwegwyk, met die Diamantveld Laerskool as middepunt geografies ‘n ideale gemeente sou wees. AI die huise in hierdie wyk le binne ‘n straal van ‘n halwe myl vanaf die middepunt.

So voor die hand liggend is die saak egter glad nie. Indien dit slegs ‘n geval was van afstigting was dit langreeds ‘n voldonge feit. Die vraag en die verantwoordelikheid is egter: Wat bly oor? Daar was drie baie belangrike faktore wat die Kerkraad in die oë moes sien:

1. Indien ‘n dee! van die gemeente afgestig word sal Newton met die kerkeiendomme daar, die rniddepunt van die moedergemeente wees. In die hele Newtonwyk woon egter nog net 12 per sent van die gemeente, en in die onmiddellike omgewing van die Kerk nouliks 5 per sent. Newton het in die afgelope jare geleidelik oorwegend ‘n Kleurling woonbuurt geword, en daar was geen aanduiding dat die proses omgekeer sou word nie.

2. Die gedeelte van die gemeente wat by afstigting agterbly sou uit die volgende bestaan: De Beers, begrens deur die spoorwegstasie en die De Beers-myn; Belgravia, begrens aan die Weste deur die Maleierkamp (wat later wel Burgerlike Sentrum sal word, maar nie ‘n woonbuurte nie); Newton, afgesny van die Noorde deur die Kleurlinggebied en die oopmyn; Wes-Einde, met die Lokasie tussen hom en die Homestead en die Kerkhof tussen hom en Nuwe Stadsgebied; en dan ook die Buitewyk. Dus sewe wyke wat wydverspreid lê met breë grensskeidings wat in elk geval nooit deur woonbuurtes oorbrug sou word nie. Hieruit kon nooit ‘n samehorige gemeente bestaan nie.

3. Nadat onderhoude met die Stadsraad gevoer is het dit duidelik geblyk dat die Stadsraad nie binne tien jaar enige afdoende aanduiding sou kon gee van die rigting waarin woonbuurtes in die toekoms sou uitbrei nie. Met hierdie feite voor oë het die Kerkraad besluit dat dit tog moontlik sou wees om te desentraliseer mits Newton as ‘n blanke woonbuurt bestendig kon word. ‘n Onderhoud word met die Stadsraad gereël. Hierdie liggaam het die afvaardiging van die Kerkraad
simpatiek ontvang, en namens die Kerkraad word formeel aansoek gedoen dat die Stadsraad Newton as Blanke woonbuurt moet bestendig. Die Stadsraad het sy magteloosheid om dit te doen tekenne gegee, en wou die saak aanvanklik daar laat. Na verdere vertoë egter het die Stadsraad as ‘n altematief aangebied om die kerkeiendomme, geleë aan die Newtonmarkplein, te koop. Nadat die Kerkraad twee gewigtige vergaderings oor die saak gehou het, en die gemeente intussen deur rniddel van die blad op hoogte van die verwikkelings gehou is, word ‘n besluit geneem en die volgende in die Gemeenteblad van 1 September 1944 bekend gemaak:

“Alle pogings is deur die Kerkraad aangewend om Newton as ‘n Blanke woonbuurt te bestendig, en so ons kerkeiendomme op die Newton-markplein te kan behou. Hierdie pogings het misluk, en onder die drang van die omstandighede was die Kerkraad verplig om die alternatiewe voorstel aan te neem n.l. om Newton te ontruim. Die aanbod van die Stadsraad om ons te kompenseer met ‘n bedrag van £9 000 is gevolglik aangeneem. Dit was ‘n droewige oomblik toe die Kerkraad plegtig opgestaan het om oor hierdie gewigtige saak te besluit. Die gedagte dat die Kerkgebou, met al die innige sentiment wat daaraan verbonde is ontruim moet word is allersinds pynlik. Die Kerkraad kon maklik die moeilike beslissing afstel, maar die feite waarvoor ons staan stel ons reeds voor so ‘n voldonge feit dat ons nie mag terugdiens nie.”

Verder word bekend gemaak dat die Kerkraad met geesdrif eenparig besluit het op die bou van ‘n nuwe Kerk in die middestad, en dat die lede van die Kerkraad hierdie besluit ook verseël het deur aan kontant en beloftes meer as £1 500 in te skrywe vir die boufonds.


DIE PERSEEL
Die perseel op die hoek van Bean-en Villiersstrate
wat deur die Kerkraad aangekoop is vir die
bou van die nuwe kerk. Vandag pryk die gebou
van Noordkaaplandse Drukkers daar (1972).

lndien die geskiedenis van hoedat die Kerkraad ‘n bouperseel vir die nuwe Kerk in die hande gekry het ten volle vertel moet word, dan sal dit letterlik ‘n boekdeel bevat. Hoe tragies tog dat dit vandag so ‘n reuse taak moet wees om, in ‘n materiele wêreld wat vanweë die inflasie en die gees van spekulasie skoon oploop geraak het, ‘n stukkie grond in die hande te kry waarop ‘n Godshuis gebou kan word. Agter die stuk grond wat ons vandag het, en agter al die mislukte pogings
wat vanweë ander persele aangewend is, skuil meer as twee-honderd onderhoude, letterlike trane, baie stryd, baie kommer en baie gebed.

Om nou nie melding te maak van die rnislukte pogings nie, kan aangaande die grond wat ons nou het die volgende kortom gesê word: Reeds aan die begin van 1943 is met die oog op stygende pryse privateopsies verkry op sekere erwe aan Grewerplein (vir ingeval van afstigting), en op enkele plekke in die middestad (vir geval van sentralisasie). Nadat die Kerkraad op sentralisasie besluit het is die opsies op Grewerplein prysgegee (die pryse was in elk geval baie hoog), en word die ander opsies van tyd tot tyd hernu. Intussen word dringende vertoë tot die Stadsraad gerig, en alhoewel hierdie liggaam baie simpatiek was, kon hy nie binne tien jaar enige vaste belofte maak nie. In die middel van 1946 besluit die Kerkraad om die opsies vir die eiendomme op die hoek van Bean- en Villiersstraat uit te oefen, en word vier erwe, met die geboue daarop, gekoop vir ongeveer £5 500. Die geboue daarop sal natuurlik by sloping ‘n sekere waarde hê. Dit kan nou bekend gemaak word dat ‘n week voordat die Kerkraad besluit het om die eiendomme te koop ‘n aanbod van dubbeld die gesigswaarde van die opsies daarvoor gemaak is en, soos reeds bekend het die Kerkraad, enige weke na die koop, ‘n aanbod van £15 000 sonder huiwering van die hand gewys.

ARGITEKSTEKENING VAN
VOORGESTELDE NUWE
KERKGEBOU

Vandag is ons innig dankbaar dat ons oor ‘n perseel beskik wat een van die beste en mooiste in die hele stad is. Op hierdie perseel sal op die voorste hoek die kerkgebou staan, en skuins-agter dit ‘n kerksaal in Beanstraat, en ‘n woonstel en kerkkantoor vir die scriba in Villiersstraat. Die kerkgebou sal eers opgerig word en die ander later, maar op so ‘n plan dat die geheel uiteindelik ‘n sierlike eenheid sal vorm.

Die welbekende argiteksfirma Geers en Geers van Johannesburg het reeds die finale grondplanne voltooi, en die Kerkraad is baie ingenome daarmee. Die argitekte is tans besig met die werkstekeninge en die spesifikasies. Intussen is reeds aansoek gedoen by die kontroleur vir ‘n boupermit, en sodra dit toegestaan word sal ons begin BOU!


DIE GEMEENTE VAKANT

In Januarie 1948 ontvang ds. Buys ‘n beroep na Prins Albert en op 28 Februarie vertrek hy daarheen. Ds. Lückhoff maak op 18 Julie 1948 bekend dat hy die beroep na Pretoria-Oos aangeneem het. Want, het hy gesê, die toekomsplanne is in so ‘n gevorderde stadium dat dit oorhandig kan word. Ds. Lückhoff het in elk geval swaar afskeid van die gemeente geneem want graag sou hy die verwesenliking van sy ideaal, ‘n sierlike sentrale nuwe kerkgebou, sien verrys.

Die Kerkraad met die Boukommissie aan die spits het toe maar aan die werk gespring en voorbereiding vir die sloping van die geboue op die perseel van die nuwe Kerk is nou aan die gang. Die Boukommissie bestaande uit mnre. H. J. Stander (voorsitter), C. M. Lombaard, M. M. J. Combrink en P. J . Joubert, wil homself op hoogte stel van al die noodsaaklike geriewe vir ‘n Kerk en besluit om die nuwe Kerkgebou op Vaalharts te gaan besigtig. Langs die pad word daar tee gedrink en so in die loop van die geselskap se mnr. Stander: “Ek dink ons doen nie reg om ons Kerk te verkoop nie.” Hierdie gedagte het onmiddellik inslag gevind by nog twee van die lede, een was daarteen

Die Kommissie het sy opdrag uitgevoor en aan die Kerkraad gerapporteer oor die Kerk op Vaalharts. Die Kerkraad het in die tussentyd ‘n beroep uitgebring op ds. S. B. Meyer van Plooysburg.

Die kassier reis na Plooysburg en vra ds. Meyer, as hy sou besluit om die beroep aan te neem of hy hom sal beywer vir sentralisasie of afstigting waarop hy geantwoord bet: ,ek is ten gunste van afstigting.” Dit was ‘n groenlig vir mnr. Stander se gedagte en in die rigting is toe reeds gedink en beplan.

Op ‘n Kerkraadsvergadering gehou op 14 Oktober 1949 gee oudl. H. J. Stander kennis van ‘n mosie om die besluite in verband met die bou van die nuwe kerk in hersiening te neem, en op 9 Desember 1949, dien die volgende mosie van oudl. Stander gesekondeer deur oudl. M. M. J. Combrink: “Met die oog op veranderde omstandighede en ook wat betref ‘n veranderde beleid van die Munisipaliteit, onmiddellik onderhandel word vir die kansellasie van die verkoop van die Kerk, Saal, Pastorie ens.”

Die voorstel word tot stemming gebring en met 3 ( drie) teenstemme word dit die besluit van die vergadering.

<< Terug na Ons Geskiedenis